Toer Datum
Toer
Koste P/P
Toer Afstand
Tipe Verblyf
7 Dae van Avontuur, Natuur en Geselligheid
Hierdie is ‘n heel besonderse toer met sand en seekos aan die orde van die dag. Jy moet net jouself jou 4×4 en klere bring. Ons toer langs die beeldskone Weskus twee spoor paadjies en sandduine, bly in die mooiste kusdorpies met die lekkerste kos en natuurlik die beste weskus gasvryheid ooit…en moenie vergeet van al die mooi blomme nie…
Toer Program
Dag 1 – Sondag, 11 Oktober 2026
Aankoms by Paternoster
Ons kom almal voor 18:00 by die PATERNOSTER HOTEL bymekaar om ons gastehuise te kry vir die wat nie by Hotel slaap nie. Registrasie en aandete sal seweuur wees. (Alle etes is by die Hotel) Om by Paternoster te kom, ry op die pad van Kaapstad na Veldrif en draai links na Vredenburg. Ry deur Vredenburg en moenie die Saldanha pad neem nie, vat die pad na Paternoster. By die eerste stop in Paternoster draai links en die hotel lê voor jou. Die PATERNOSTER HOTEL is sekerlik dié simbool van die Weskus en baie gesog. Maak gerus ‘n draai in die wêreldberoemde kroegie en stap oor die duin tussen die hotel en die see, wat nou as ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar is. As daar mense is wat al die dag voor die tyd wil ingaan. Carina sal vir julle reël. Laat weer haar net.
Dag 2 – Maandag, 12 Oktober 2026
Paternoster – Tietiesbaai – St Helena Baai – Elandsbaai – Lambertsbaai
Na ontbyt deel ons tweerigting radios uit en vertrek negeuur eers na TIETIESBAAI en kom dan terug om deur Paternoster te ry. Ons ry deur die groter Paternoster Park en dan St Helena Baai waar ons op die berg gaan om die baai mooi te kan sien. Daarvandaan gaan ons na Dwarskersbos en verder tot by Elandsbaai waar ons n verversingtjie by die WIT MOSSEL POT RESTAURANT gaan geniet. Na ete gaan ons met die grondpaadjie tot bo op die Bobbejaansberg, reg bokant die plek waar die Sishen – Saldana spoorlyn met n tonnel deur die berg gaan. Met n wonderlike uitsig oor Elandsbaai en die see. Ons gaan eers na Lambertsbaai waar ons by die LAMBERTSBAAI HOTEL bymekaar kom om die sleutels te kry vir ons kamers wat die volgende twee aande ons woonplek gaan wees. Aandete is seweuur in die MUISBOSSKERM RESTAURANT, so 3km uit die dorp uit op die strand. Bring ook warm klere saam. Dis langs die see en word kouerig. Dis seekos en meer seekos en darem ’n vleisie vir die wat slegte kos wil hé. (laat weet Carina net op die vorm) Daar is ’n kroeg en jy mag nie jou eie drank inbring nie. Elkeen gaan op sy eie tyd terug hotel toe as jy nie meer kan eet nie. Reg agter die hotel is parkeerplek waar ons voertuie veilig toegesluit sal word vir die nag.
Dag 3 – Dinsdag, 13 Oktober 2026
Lambertsbaai – Voeleiland – The Duns – Lambertsbaai
Ontbyt is half agt. Ons vertrek half nege na die VOËLEILAND waar ons na tienduisend Malgas broeipare gaan kyk. Ons sal half elf daarvandaan vertrek na THE DUNES, 10 km uit die dorp uit met die teerpad. Sandduine met die lekkerste roete en speel, sand en speel is wat die hele dag inhou. Ons ry net sowat 30 km. vir die hele dag. Vir middagete gaan ons sommer ‘n worsbroodjie braai tussen die duine. Aandete is by die BOSDUIFKLIP Restaurant en daarom moet ons honger wees. Daar sal kreef ook wees as hulle dit in die hande kan kry. Daar is ’n kroeg en jy mag nie jou eie drank inbring nie. Elkeen gaan op sy eie tyd terug hotel toe.
Dag 4 – Woensdag, 14 Oktober 2026
Lambertsbaai – Doringbaai – Strandfontein – Lutzville – Papendorp – Strandfontein
Ontbyt is weer half agt en ons vertrek weer negeuur met die grondpad. Ons draai af na Donkiesbaai, tot by Doringbaai. Die pad is maar slegterig. Ons gaan wyn proe by die FRYERS COVE wynkelder. Seker die mooiste plek op die ou vervalle kaai. Nou ry ons ’n spesiale paadjie tot by Strandfontein. Hiervandaan gaan ons na die grootste brug op die Sishen-Saldanha spoorlyn voor ons weer gaan wyn proe by LUTZVILLE Kelders en ook ietsie lig te ete kry. Daarvandaan gaan ons oor Papendorp terug na STRANDFONTEIN toe. Ons volg die paadjie langs die see af na Strandfontein toe. Die aand gaan ons in die Gastehuise bly. Ons deel weer huise maar elkeen kry sy eie badkamer. Aandete is seweuur by die Saal waar ons aanvanklik bymekaar gekom het. ’N baie mooi plek met baaaie lekker kos.
Dag 5 – Donderdag, 15 Oktober 2026
Strandfontein – Lutzville – Koekenaap – Schaapvlei – Brand se Baai – Hondeklipbaai
Hierdie is die langste dag van die trip en ons gaan eers laat by HONDEKLIP BAAI aankom. Ons gaan elkeen op ons eie tyd na ontbyt tot by die garage op Lutzville waar ons volmaak en as iets nodig is dit kan koop want hier is ons laaste winkels voor ons vertrek na Koekenaap en Schaapvlei. Daarvandaan volg ons die sandpaadjies wat al langs die see op loop verby die diamantdelwerye en ou myntjies tot by Brand se Baai en verder tot by die Spoegrivier grotte. Hierdie kusgebied is baie spesiaal en die hoogtepunt van die week. Die volgende stop is Hondeklipbaai. Ons is nou baie ver van enigiets af en alle geriewe is basies en die enigste, maar elke kamer het sy eie badkamer… Ons bly vir 2 aande by HONDEKLIPBAAI in verskillende huisies. Ons eet vir die 2 aande by DIE ROOI SPINNEKOP RESTAURANT.
Dag 6 – Vrydag, 16 Oktober 2026
Hondeklipbaai – Koiingnaas – Hondeklipbaai
Ontbyt is in dieselfde plek half agt en ons gaan half nege vertrek na die diamantsper gebied by KOIINGNAAS waar die dag se roete begin. Ons ry op die roete wat oor die duine gaan, en ons na drie skeepswrakke neem. Die sandpaadjie hou ons ook goed besig, maar by hierdie tyd het ons almal al geleer hoe om sand te ry. Daarna gaan ons na die wit bromduine. Dis die speelplek waar ons vir oulaas ons sandlus bevredig. Ons sal weer aandete eet op dieselfde plek as die vorige aand. Om sewe uur.
Dag 7 – Saterdag, 17 Oktober 2026
Hondeklipbaai – Port Nolloth – Kleinzee – Vertrek en Afsluiting
Ontbyt is agtuur en ons vertrek om negeuur op pad Port Nolloth toe. Ons ry KOIINGNAAS toe en dan tot by Kleinzee—net om te sien en dan noord met die grondpad Port Nolloth toe. Daar sal ons iets ligs eet en dan groet, want party mense wil nog die omgewing bekyk en ander wil aanstoot huis toe. Ons groet so tweeuur die middag.
Belangrike Inligting
- Alle kostes is ingesluit: drie etes en verblyf. Jy moet net self sorg vir jou drinkgoed.
- Ons verskaf tweerigting radios. Sorg dat daar n oopaanstekersok is om dit in te prop.
- Finale instruksies sal voor die tyd deurgegee word, i.v.m tyd en waar almal ontmoet die eerste dag, asook wat om alles saam te neem.
- Ons stig ook n Whats App groep die dag voor julle vetrek. Laat weet op die besprekingsvorm indien jy nie op die groepie wil wees nie.
- Elkeen is verantwoordelik vir sy eie Mediese Versekering.
- NB: Ons behou die reg voor om veranderinge aan die program te maak as omstandighede dit vereis.
- Kanselasie: Al die kostes is voor 30 dae alreeds oorbetaal aan al die verskillende instansies soos bv. Blyplekke, spyseniers, roetekostes ens. As julle binne 30 dae kanselleer, kan ons nie julle geld terug waarborg nie.
- Kontant Betalings: As julle n kontant-oorbetaling doen, reken n 5% kontant deposito fooi in asb.
- Kinders bo 13 betaal vol prys en tussen 4-12 – 50%
- Laat weet ons kantoor indien julle wil saam en ons stuur vir julle die besprekingsvorm deur.
Wat Jy Nodig Sal Hê
Om hierdie 4×4 toer te geniet, benodig jy:
- ’n 4×4 voertuig met laestrek (Low Range)
- Diesel voertuie moet ’n turbo hê
- Kampstoele vir stopplekke en middagetes
- Jou eie drankies en verversings