Skip to main content

Swartberge 4×4 Toer

Swartberge 4×4 Toer

15 – 21 November 2026
Toer Datum
7 Dae
Toer
R 14750.00
Koste P/P
950+ KM
Toer Afstand
Hotel / Lodges
Tipe Verblyf

7 Dae van Avontuur, Natuur en Geselligheid

Welkom by ons aangepaste toerprogram!

As gevolg van die onlangse vloedskade in sekere gebiede moes ons ongelukkig die oorspronklike roete aanpas. Om die toer steeds veilig, aangenaam en van die hoogste gehalte te hou, is die program met een dag verkort. Die toer duur nou 7 dae, en die toerprys is dienooreenkomstig aangepas.

Hoewel die toer met n dag korter is, beloof dit steeds ‘n onvergeetlike avontuur met asemrowende bergpasse, uitdagende 4×4-roetes, uitstekende verblyf, heerlike etes en die gesellige atmosfeer waarvoor 4×4 Sport bekend is.

Ons sien uit daarna om hierdie besondere avontuur saam met julle te beleef en nóg ‘n klomp wonderlike herinneringe te skep.


Toer Program

Dag 1 – Sondag, 15 November 2026

Aankoms by Prins Albert

Ons kom die middag in Prins Albert bymekaar. Almal slaap by die Swartberg Hotel. Indien daar meer gaste is as wat die hotel kan akkommodeer, sal sommige van julle in ‘n gastehuis langs die hotel tuisgaan. Ons eet egter almal saam by die hotel. Aandete: 19:00 by die Swartberg Hotel in Hoofstraat.


Dag 2 – Maandag, 16 November 2026

Prins Albert – Swartbergpas – Oudtshoorn

Ontbyt is om 08:00 by die hotel. Nadat almal hul kospakkies ontvang het, vertrek ons 09:00. Ons ry die indrukwekkende Swartbergpas op en stop by verskeie interessante punte, waaronder die ou tronk en ander pragtige uitkykpunte. Hoër op die pas draai ons af na Die Hel (Gamkaskloof), waar ons ‘n heerlike middagete geniet.

Na middagete ry ons terug oor die bergpas en daal aan die Oudtshoorn-kant af. Daar boek ons in by die pragtige Old Mill Country Lodge, beslis een van die mooiste lodges in die
omgewing. Ons gaan twee aande hier tuisgaan. Aandete: 19:30.


Dag 3 – Dinsdag, 17 November 2026

Oudtshoorn Boy Spiespas

Ontbyt is om 8:00. Die oggend is vry om te ontspan en die pragtige omgewing te geniet.

Om 12:00 vertrek ons na Buffelsdrift Game Lodge, waar ons ‘n ligte middagete geniet. Daarna ry ons terug na Old Mill Country Lodge en pak die bekende Boy Spiespas aan. Hierdie besonderse 4×4-roete neem ons diep die Swartberge in, waar ons die asemrowende natuurskoon kan waardeer. Dit is ook ‘n plek waar die legendariese Francois Rossouw sy merk gemaak het.

Na ‘n heerlike middag van 4×4-ry keer ons terug na Old Mill Country Lodge vir aandete.

Aandete: 19:30.


Dag 4 – Woensdag, 18 November 2026

Oudtshoorn – Kamga Berg Park – gamkaberg pas – Mosselbaai

Ontbyt is om 07:30. Nadat ons ons kospakkies opgetel het, vertrek ons 08:30. Ons ry eers terug in die rigting van die Swartbergpas, waarna ons links draai op die Calitzdorp-pad. Later draai ons af na Kruisfontein en volg die grondpaaie agterom die Oudtshoorn-omgewing. Ons bestemming is die Gamkaberg Natuurreservaat, waar ons die baie weg gesteekte en besonderse Gamkabergpas uitry. Hierdie steil bergpas neem ons tot bo-op die berg, waar ons ons kospakkies geniet met een van die mooiste uitsigte van die toer. Gelukkig is die steilste gedeeltes van die pas met sement gebou, wat goeie vastrap vir die voertuie bied. Die natuurskoon en uitsigte is eenvoudig onbeskryflik.

Daarna ry ons na Mosselbaai, waar ons vir twee aande by die Point Village Hotel, reg langs die see, tuisgaan.
Aandete: By Delfino’s Restaurant, langs die hotel met ‘n pragtige see-uitsig


Dag 5 – Donderdag, 19 November 2026

Mosselbaai – Vleesbaai – Fransmanskraal – Mosselbaai

Ontbyt is om 08:00 by Delfino’s Restaurant, waarna ons weer ons kospakkies ontvang. Ons vertrek 09:00 na Vleesbaai, waar ons die gewilde sandroete langs die see gaan aanpak – ‘n heerlike 4×4-ervaring. Ons kuier ook lekker tussen die duine om ons kospakkies te geniet. Onthou kampstoele en dalk n sambreel vir die son. Daarna besoek ons Fransmanshoek, waar verskeie skepe oor die jare gestrand het. Ná hierdie besoek keer ons terug na Mosselbaai om die res van die middag en aand te geniet.


Dag 6 – Vrydag, 20 November 2026

Mosselbaai – Ou Montaque Pas – Louvain – Willowmore

Ontbyt is om 07:30. Nadat ons ons kospakkies opgetel het, vertrek ons 08:30 na Louvain Gasteplaas.

Ons ry die historiese Duiwelskop Ossewapad oor die berg – ‘n uitstekende 4×4-roete met asemrowende uitsigte oor die omliggende landskap. Ons stop langs die pad om ons kospakkies vir middagete te geniet voordat ons later die middag by Louvain Gasteplaas aankom in die mooi Langkloof Valley, daarna vat ons die pad na Willowmore waar ons by die mooi historiese TheWillow Gastehuis almal lekker saam gaan eet en ook slaap.


Dag 7 – Saterdag, 21 November 2026

Ontbyt word vanaf 07:30 bedien.
Na ontbyt pak elkeen die pad huis toe aan – met ‘n voertuig vol stof, ‘n kamera vol foto’s en ‘n
hart vol onvergeetlike herinneringe.


Belangrike Inligting

  • Alle kostes is ingesluit: drie etes en verblyf. Jy moet net self sorg vir jou drinkgoed en extra snacks vir deur die dag
  • Ons verskaf tweerigting radios. Sorg dat daar n oopaanstekersok is om dit in te prop.
  • Finale instruksies sal voor die tyd deurgegee word, i.v.m tyd en waar almal ontmoet die eerste dag, asook wat om alles saam te neem.
  • Ons stig ook n Whats App groep die dag voor julle vetrek. Laat weet op die besprekingsvorm indien jy nie op die groepie wil wees nie.
  • Elkeen is verantwoordelik vir sy eie Mediese Versekering. Laat weet ook jou versekering jy gaan land uit
  • NB: Ons behou die reg voor om veranderinge aan die program te maak as omstandighede dit vereis.
  • Kanselasie: Al die kostes is voor 30 dae alreeds oorbetaal aan al die verskillende instansies soos bv. Blyplekke, spyseniers, roetekostes ens. As julle binne 30 dae kanselleer, kan ons nie julle geld terug waarborg nie.
  • Kontant Betalings: As julle n kontant-oorbetaling doen, reken n 5% kontant deposito fooi in asb.
  • Kinders bo 13 betaal vol prys en tussen 4-12 – 50%
  • Laat weet ons kantoor indien julle wil saam en ons stuur vir julle die besprekingsvorm deur.

Wat Jy Nodig Sal Hê

Om hierdie 4×4 toer te geniet, benodig jy:
  • ’n 4×4 voertuig met laestrek (Low Range)
  • Diesel voertuie moet ’n turbo hê
  • Kampstoele vir stopplekke en middagetes
  • Jou eie drankies en verversings

Vorige Toere in Aksie

Navraag

Kontak Vorm