Toer Datum
Toer
Koste P/P
Toer Afstand
Tipe Verblyf
7 Dae van Avontuur, Bergpasse en Geselligheid
Lesotho is sekerlik die bergagtigste land in Afrika. Dit bestaan net uit berge, riviere en passe. Soos die ontwikkeling aangaan, word al hoe meer passe geteer, en stadig maar seker is die 4×4 paradys besig om te kwyn.
Daar bly darem nog heelwat van die paradys oor en al is party passe geteer, is dit baie mooi en afgeleë. Ons het ‘n roete uitgewerk wat die heel meeste passe in Lesotho dek en byna ‘n duisend kilometer kruis en dwars deur die Bergkoninkryk kronkel. Blyplekke is skaars, maar op die ou einde het ons die roete van die een Lodge tot die ander oor sewe dae saamgestel en gaan ons kans kry om die hele land te sien in een week danksy die kennis van Wiesman Nel.
Ons gaan buite die sneeutyd om die risiko van vassneeu te verminder. Jy het geen spesiale toerusting nodig nie, net ‘n 4×4 met laestrek.
Toer Program
Dag 1 – Sondag, Februarie 2027
Moolmanshoek
Ons kom by Moolmanshoek in die Oos Vrystaat nie te ver van die grens af nie, bymekaar betyds vir aandete. Ons leer mekaar daar ken en geniet ‘n heerlike aandete saam. Dis pragtig en as jy ‘n dag voor die tyd al wil gaan, skakel Carina sy sal reël vir julle.
Dag 2 – Maandag, Februarie 2027
Fouriesburg – Motebong
Ontbyt is 7:00 en ons ry 8:00. Ons ry tot by Fouriesburg waar ons brandstof volmaak. Nou gaan ons by Caledonspoort deur die grens en draai by Butha Buthe links. Ons ry met die teerpad aan en klim die baie steil Moteng Pas tot bo waar ons 3000m bo seespieël is. Ons ry verder deur die Tlaeeng Pas wat die hoogste teerpadpas in Afrika is. Nog ‘n hele paar passe en na ons by die Letseng Myn verby is waar hulle gereeld diamante van oor die honderd karaat uithaal, draai ons af op die grondpad wat ons verby die perseël van die derde dam die Polihali dam wat in die Lesotho Hoogland Waterskema in aanbou is. Ons gaan verder tot by Katze Dam waar ons die aand in die Motebong Lodge bly. Aandete is 19:00.
Dag 3 – Dinsdag, Februarie 2027
Motebong – Thaba-Tseka
Ontbyt is 7:00 en ons ry 8:00. Ons gaan eers ‘n bietjie na die dam waar ons in die tonnels van die damwal gaan en as ons gelukkig is met n bootrit op die dam. Ons gaan nou na die Katze Village waar ons ‘n kans gaan kry om van die regte egte Lesotho komberse kan koop. Waarna ons weer die grondpad pas vat wat ons na Thaba Tseka toe neem. Vanaand gaan ons moeg wees en slaap in die Mohale OH Masite hotel in Thaba Tseka. Aandete is 19:00.
Dag 4 – Woensdag, Februarie 2027
Thaba-Tseka – Qacha’s Neck
Ontbyt is 7:00 en ons vertrek 8:00. Ons ry met die grondpad pas oor Taung en Sehonkong en draai net voor die Matabeng pas regs weg na Quachas Nek. Ons kruis die Senqu rivier en die bolope van die Oranje. Toe ons die roete gesoek het, het die Matabengpas meer as ‘n halfdag geneem om te kruis. Hulle werk aan hom, maar vorder stadig, miskien volgende keer, maar ons gaan met ‘n ompad tot by Quachas Nek. Dit is by die grenspos na Matatiele, maar ons bly twee aande by die New Central Hotel nog in Lesotho, want ons is nog nie klaar met hom nie. Aandete is 19:00.
Dag 5 – Donderdag, Februarie 2027
Qacha’s Neck – Sehlabathebe Nasionale Park – Qacha’s Neck
Ontbyt is 7:00 en ons ry 8:00. Vandag ry ons verby die Ramatsilitso hek in die rigting van Sehlabathebe Nasionale Park. Hier is die mooiste Lodge ‘n paar jaar gelede gebou teen ‘n koste van R109 Miljoen. Dis volledig toegerus met meubels, beddegoed, eetgerei en die mees moderne kombuis, maar niemand het nog daar gebly nie, want hulle kry nie ‘n bestuurder vir die plek nie. Nou staan en vergaan die pragtige plek. Ons ry ‘n baie mooi sirkelroete wat ons vanaand weer terugbring by die New Central Hotel. Dis regtig ‘n baie mooi dag deur die mooiste grondpadpasse. Aandete is weer 19:00
Dag 6 – Vrydag, Februarie 2027
Qacha’s Neck – Mohakle Lodge
Ontbyt is 7:00 en ons ry 8:00. Vandag ry ons op teerpad oor baie mooi passe op die kruin van die berge langs verby Whitehill en Seforong tot by Semonkong waar ons na die pragtige Maletsunyane waterval gaan kyk wat 192m val. Dis baie besonders en ‘n sowat 10 km van die hoofpad af. Ons ry tot by die uitkykpunt waarvandaan die valle op sy mooiste is. Nou ry ons weer teerpad en stop op die punt waar jy die Baboons Pass kan sien. Dis die pas waar die gek ouens hulle voertuie gaan opvoeter! Nou ry ons tot by Mohale Hotel waar ons die aand gaan bly. Aandete 19:00.
Dag 7 – Saterdag, Februarie 2027
Vertrek en Afsluiting
Ontbyt is 7:00 en ons ry 8:00. Nou gaan ons met die slegte grondpad reg om die Mohale dam tot weer by die teerpad. Ons ry oor Nkesi Pas verby Roma Trading Post en Makalanyane en dan deur die teerpadpasse die Blue Mountain Pass, Boesmans Pass die God Help me Pass tot by Maseru. Ons hoop om so by 15:00 oor die grens te wees. Die mense wat weer die aand by Moolmanshoek naby Ficksburg wil bly is welkom en die wat haastig is, kan huis toe vertrek. Daarom is die laaste aand se koste nie ingesluit by die toerprys nie. Laat weet vir Carina sy sal vir julle reël.
Belangrike Inligting
Kredietkaarte werk nie oral in Lesotho nie, daarom moet ons voorsiening maak vir kontant vir drankies en brandstof. Ons rand werk daar.
Onthou, dis LESOTHO. Jy moet ‘n tas vol geduld saambring. Die diens is maar stadig, oral! Lesotho se goeie blyplekke is skaars en duur.
- Alle kostes is ingesluit: drie etes en verblyf. Jy moet net self sorg vir jou drinkgoed.
- Ons verskaf tweerigting radios. Sorg dat daar n oopaanstekersok is om dit in te prop.
- Finale instruksies sal voor die tyd deurgegee word, i.v.m tyd en waar almal ontmoet die eerste dag. n Padkaart na Moolmanshoek word ook dan aangeheg, asook wat om alles saam te neem.
- Ons stig ook n Whats App groep die dag voor julle vetrek. Laat weet op die besprekingsvorm indien jy nie op die groepie wil wees nie.
- Elkeen is verantwoordelik vir sy eie Mediese Versekering. Laat weet ook jou versekering jy gaan land uit.
- NB: Ons behou die reg voor om veranderinge aan die program te maak as omstandighede dit vereis.
- Kanselasie: Al die kostes is voor 30 dae alreeds oorbetaal aan al die verskillende instansies soos bv. Blyplekke, spyseniers, roetekostes ens. As julle binne 30 dae kanselleer, kan ons nie julle geld terug waarborg nie
- Kontant Betalings: As julle n kontant-oorbetaling doen, reken n 5% kontant deposito fooi in asb.
- Kinders bo 13 betaal vol prys en tussen 4-12 – 50%
- Laat weet ons kantoor indien julle wil saam en ons stuur vir julle die besprekingsvorm deur.
- Deposito: 50%
- Enkelbedrag: 15% Ekstra
Wat Jy Nodig Sal Hê
Om hierdie 4×4 toer deur die Karoo en Cederberg te geniet, benodig jy:
- ’n 4×4 voertuig met laestrek (Low Range)
- Diesel voertuie moet ’n turbo hê
- Kampstoele vir stopplekke en middagetes
- Jou eie drankies en verversings